SAPS captain Abie Greyling has been missing for past 17 years
August 16 2013 -- In die byna 17 jaar dat haar polisieman-seun weg is, het ’n Pretoriase ma nog nie vir hom ’n roudiens of begrafnis gehou nie. Nie eens die feit dat die hooggeregshof in Pretoria kapt. Abie Greyling verlede jaar dood verklaar het, kan Sheila Greyling (75) oortuig dat hy dood is nie. “Hoe kan ek my kind begrawe? Ek het nie die moed nie,” het Greyling gesê.“Ek kan nie aanvaar my kind is dood nie. Ek wil dit nie aanvaar nie.” Greyling se eksvrou, Louisa, het verlede jaar in die hooggeregshof aansoek gedoen om hom dood te laat verklaar. Louisa (nou Berning) is 15 maande ná Greyling se verdwyning van hom geskei. Awie Moolman, Louisa se prokureur, het gesê sy het die aansoek gebring op aanbeveling van die polisie omdat hulle ’n redelike vermoede het Greyling is dood omdat hy al so lank weg is. Die polisie wou die dossier sluit. In die polisie se stelsel is Greyling, wat ’n speurder in die handelsmisdaadeenheid in Pretoria was, steeds ’n vermiste persoon.Greyling (destyds 28) is laas op 1 November 1995 by sy huis in Rietfontein, in die Pretoriase Moot, gesien.
“Die oorledene het vermis geraak nadat hy waarskynlik betrokke was by ’n private transaksie vir die aankoop van African Grey-papegaaie en die transaksie toe moontlik skeefgeloop het,” lui die hofstukke. “Ná verskeie onsuksesvolle pogings om hom op te spoor, is die hulp van (die eenheid) moord en roof ingeroep. Polisielede kon tot op hede nog nie leidrade en/of bewyse vind dat die oorledene leef nie.” Volgens Berning se hofstukke het die polisie in Januarie 2011 gesê Greyling is vermoedelik dood en dat sy die hof moet nader “aangesien ek aanspraak kan maak op alle voordele wat die oorledene sou gehad het”. Daar is opgehoopte pensioengeld wat sy sal kan kry. Destyds is wyd en syd oor Greyling se verdwyning berig. Daar is beweer Greyling is in die buiteland, maar dit kon nooit bevestig word nie.Sy ma het gesê wat haar die meeste onderkry, is dat daar nie antwoorde op haar vrae is nie. “Dié is ’n harde storie. Ek kan nie vir mense sê hoe ek voel nie. Ek word kwaad vir hom (Abie). “Hoekom het jy verdwyn? Wat is die rede? Kon jy nie jouself help nie? Hoekom het jy ons verlaat?” is haar vrae aan hom.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Ma-wil-nie-vermiste-begrawe-20120622
↧