Parys FS residents live in fear after cruel murder of Hillary Milford 76 and brutal assault on Mary Prinsloo 64
Donderdag 21 November 2013 PARYS. – Die moord eergister op Parys het inwoners van dié rustige dorp bang. Paraat. Ontnugter.
Hillary Milford (76) is eergister in haar huis vermoor, vier dae nadat Mary Prinsloo (64) van Vredefort grusaam in haar huis met ’n koevoet aangeval en vir dood agtergelaat is.
Sy het skedelbreuk en ernstige kopbeserings opgedoen. Haar skoondogter sê sy word moontlik vandag uit die hospitaal ontslaan.
’n Man (22) van die informele nedersetting Tumahole is gister deur lede van die Parys-speurtak vir die moord op Milford in hegtenis geneem. Hy het glo in haar tuin gewerk. ’n Selfoon wat ná die voorval uit die huis vermis was, is in sy besit gevind.
Die moord en aanval het inwoners hul gevoel van veiligheid ontneem.“Dit vat nogal aan ’n mens. Waar ons met oop deure geslaap het, kan ’n mens dit nou nie meer doen nie. Dit was nooit nodig om deure te sluit nie. Vandat dit gebeur het, maak ons ’n punt daarvan om ons deure te sluit,” het Elna Matthysen gister gesê. Sy sê inwoners is gewoond daaraan dat Parys ’n rustige dorpie is.
Só bang is inwoners vir vergelding dat baie nie hul name wil noem nie. “Netnou word ons geteiken,” is die gevoel.
Een van hulle is Piérre, ’n winkeleienaar, wat net bereid is om sy voornaam te noem. “Ons moet weer bewus gemaak word, ons moet na onsself kyk,” sê hy.
Toe hy nou die dag ’n vrou vermaan wat haar handsak op haar motor se enjinkap los terwyl sy die kattebak oopmaak, het sy haar vererg. “Ons is in ’n tweestryd, dis ’n menslike oorlog. Dit is ’n kwessie van oorlewing,” sê hy.
Wat die laaste tyd aangaan, weet hy nie. “Jy moet eenvoudig waaksaam wees. Tye het verander...” sê hy.Piérre is baie hartseer oor die voorvalle, maar sê veral ouer mense moenie werkers aanstel wat hulle nie ken nie.
Die bestuurder van ’n klerewinkel, wat anoniem wil bly want “net-nou teiken hulle die plek”, sê sy het eergisteraand nie geslaap nie. “Ek wens hulle kon dit stop, maar hoe? Ek sê die galg moet terugkom,” sê sy.
Ellen Coetzee, wat op Vredefort woon en op Parys werk, sê ’n mens dink dit kan nie met jou gebeur nie. Sy wil nie ’n foto van haar laat neem nie, want “hulle merk jou”, sê sy.
By die Big 5 Boma Pub sê Joey Lehmkuhl, eienaar, dis skokkend dat sulke goed in hul midde gebeur met mense wat hulle ken. “Tannie Mary is die liefste mens wat nie ’n vlieg sal skade aandoen nie. Wie van ons is nie volgende nie? Dit sal help as die doodstraf terugkom.”
Eddie Olivier het gisteroggend vir hom ’n paniekknoppie aangeskaf wat hy in sy sak hou. “Ek is bietjie bekommerd oor en dik vir wat aangaan. As ek daai ou in die hande kry, trek ek hom uitmekaar uit.”
Lehmkuhl vertel van nog twee ouer mense wat verlede Woensdag by ’n gastehuis oorval en vasgebind is.
“’n Mens voel verbitterd, want nou moet jy in vrees leef.” Sy sê baie Suid-Afrikaners gaan oorsee, maar vra wat gaan soek ’n mens van haar ouderdom (sy is 58) in die buiteland.
“Ek het op ’n plaas grootgeword en ’n mens was nooit bang nie, maar nou...”Sy praat nie verder nie, want almal daar weet presies wat sy bedoel.
https://www.facebook.com/pages/Boere-Krisis-Aksie-BKA/116298045063416
↧