Bejaarde glo deur motorfietsryer aangerand
25 July 2013 | Dianne Chapman
’n 72-jarige man is glo verlede Vrydag deur ’n 20-jarige motorfietsryer aangeval.
Sandi Davis het vertel dat haar pa, die bejaarde man, om die verkeersirkel op die hoek van Jan van Riebeeck en Berglaan in Pretoria-Noord wou ry toe hy op die motorfietsryer afgekom het.
Die jong man het na bewering in die draai van die sirkel skeef stilgestaan. Gevolglik kon die motors nie verby hom ry nie.
“My pa het uitgeklim en die man gevra om asseblief sy motorfiets te skuif. Dis toe dat die jong man, met sy valhelm op, my pa gekopstamp het,” het Davis gesê.
Die bestuurder van ’n grys of silwer Golf het die motorfietsryer agternagejaag maar hy het weggekom.
Nog iemand in ’n wit Ford of Mazda het gestop om die bejaarde man ná die voorval te help.
Davis het die bestuurders van hierdie twee motors bedank en gevra dat enigiemand met meer inligting oor die motorfietsryer na vore sal kom.
Die jong, blanke man is vermoedelik in sy vroeë twintigs. Sy motorfiets was rooi en sy valhelm rooi en wit. Skakel Sandi davis op 082-494-3567.
↧